DataDot News
-
Mikro-kolletjies aan motors gaan diewe laat les opsê
By: Leighton Koopman, Die Burger 5 August 2010Motordiewe gaan binnekort baie makliker vasgevat word danksy nuwe mikrotegnologie wat binnekort verpligtend vir alle nuwe motors gaan wees.
Wetgewing wat die aanbring van duisende mikro-kolletjies aan motors verpligtend maak, tree in Januarie aanstaande jaar in werking. Die kolletjies sal aangebring moet word op alle motors wat daarna geregistreer word.
Mnr. Wayne Duvenhage, uitvoerende hoof van die motorverhuringsmaatskappy Avis, het by navraag gesê dié mikrokoltegnologie sal 'n goeie afskrikmiddel vir motordiewe wees. Dié kolletjies, wat nie met die oog sigbaar is nie, sal op verskeie plekke in die motor aangebring word, onder meer aan die binnekant van deure en ruite, in die bagasiebak en onder die enjinkap.
Altesaam 10 000 van dié kolletjies, van 'n gevorderde poliëster, sal op elke motor aangebring word. Dit bevat unieke kodes, soos die fabrikaat van die voertuig en 'n uitkenningsnommer Diewe sal wel die kolletjies kan opspoor, maar dit sal bykans onmoontlik wees om al 10 000 op te spoor.
"Avis was een van die eerste maatskappye wat dié tegnologie gebruik het om motordiefstal te beveg. Dié mikrokoltegnologie sal tot die ondergang van baie onwettige stroopwerkwinkels in Suid-Afrika lei. Meer motordiewe sal ook aan die pen ry."
Volgens hom sal die tegnologie die polisie help om gesteelde voertuie baie makliker uit te ken.
Dié taak is vroeër belemmer deurdat byvoorbeeld enjin- en onderstelnommers verwyder of verander is.
Me. Michelle Lowe, woordvoerder van die skakelmaatskappy Ogilvy, het gesê eienaars van ouer motors sal ook dié mikrokolletjies op hul motors kan laat aanbring, maar dit is nie verpligtend nie.
Vir meer inligting oor die tegnologie besoek www.datadot.co.za.
- Die Burger
Back to News




