"Microdots" moker SA motordiewe gou - Die Beeld Jun 03, 2009
Fanie van Rooyen

“Ons het al groot sukses behaal met die terugvind van gesteelde motors danksy microdot-tegnologie en ons hoop om motordiefstal landwyd nou nog harder te kan slaan.”

So het mnr. Fouché Burgers van Business Against Crime South Africa (Bacsa) gister gesê nadat die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) se nasionale standaard vir microdot-tegnologie amptelik by die Nissan-fabriek in Rosslyn, noord van Pretoria, bekendgestel is.

Dié tegnologie behels dat ’n voertuig met 10 000 klein metaalskyfies wat soos blinkertjies lyk in ’n gomagtige vloeistof aan verskeie onderdele van ’n voertuig gespuit word.

Mnr. Derek Menday, direkteur van DataDot Technology SA, het gedurende ’n demonstrasie van die tegnologie gesê elk van die microdots wat op ’n voertuig gespuit word, bevat ’n unieke PIN wat op ’n databasis met die spesifieke voertuig se VIN-nommer gekoppel word.

“Dit is soos om vir ’n motor sy eie DNS te gee.

“Al word die motor in ’n kapwinkel uitmekaargehaal, sal die microdots steeds elke onderdeel eien.”

Sr.supt. André Barkhuizen, hoof van die SAPD se afdeling vir voertuigmisdaadondersoeke, het gesê dié tegnologie is iets waarvoor hy al lank wag.

“Voertuigidentifikasie het ondersoekers nog altyd groot hoofbrekens besorg, want motordiewe kan ’n voertuig se VIN-, enjin- en onderstelnommer maklik verwyder om die voertuig weer te kan verkoop.”

Met microdots word die hele voertuig volgens hom gemerk, en dit sal vir motordiewe “basies onmoontlik” wees om ál die microdots te verwyder.

“Dit vergemaklik ons taak, want die diewe moet 10 000 microdots kry en verwyder, terwyl ons net een moet vind om ’n voertuig positief te eien.”

Microdot-tegnologie is volgens Burgers aanvanklik in 2002 op ’n vergadering onder leiding van die SAPD en gefasiliteer deur Bacsa bespreek as ’n moontlike voorsorgmaatreël teen motordiefstal.

Sedertdien het vier maatskappye – DataDot, Holomatrix, Impimpi en Recoveri – microdots begin maak en voertuie begin merk.

Dr. Graham Wright, adjunk- uitvoerende direkteur van Bacsa, het gesê al verkoop die meeste motorhandelaars microdot-produkte as ’n opsionele ekstra by ’n nuwe motor, het sommige motormaatskappye al in dié verband leiding geneem.

“Nissan SA het in Oktober van 2006 besluit om ál hul nuwe voertuie só te merk. Ons hoop ander motormaatskappye volg dié voorbeeld.”

BMW SA merk van Oktober 2007 ook al sy nuwe voertuie met microdots.

Alle gesteelde voertuie wat met microdots gemerk is, is tot dusver volgens Burgers weer opgespoor.

back to media coverage